Riverwild vakansie skep geleentheid vir MIV bewusmaking

“Ons wil gaan kamp” het ons kinders uitgeroep toe ons een aand praat oor die Desember vakansie.

Tydens die 2012 Desember vakansie was ons geseënd met ‘n gratis week by Riverwild.  Slegs twee dae voor ons vertrek is ons ook bederf om ‘n Echo 5 van ‘n vriend te kon leen. Riverwild is ‘n 4×4 kampterrein met huisies, 40km wes van Nelspruit.  Dit word deur Gideon Stapelberg vir ‘n Gemeenskapstrust bestuur. Die trust, wat uit lede van die plaaslike gemeenskap bestaan, werk ook voltyds by Riverwild.

Ons het wonderlike gesprekke met Gideon en die personeel gehad, waarop hy ook baie belangestel het in Building Hope se evangelisasie en MIV bewusmaking hulpbronne, waaruit ‘n impromptu versoek gevolg het.  Met een HIV/AIDS Cube, papier en ‘n pen, het Hannes basiese feite oor MIV oorgedra. Die span van Riverwild het baie vrae gehad en aktief in die aanbieding deelgeneem.

“Die mense vertel ons nie die waarheid nie, julle het vandag vir ons die waarheid vertel”, was een man se opmerking.

Ons wil baie graag teruggaan na hierdie gemeenskap en hulle ten volle toerus, sodat ander gemeenskapslede en gemeenskappe eenvoudige feite aan andere kan oordra, en so mekaar aanmoedig tot ‘n gesonde lewensstyl en die verspreiding van MIV bekamp.

HTML Snippets Powered By : XYZScripts.com