Mission4x4 besoek aan Lesotho

Sendelinge wêreldwyd getuig dat hulle nie sou doen wat hulle doen, sonder dat die Here ‘n passie in hulle plaas vir mense en veral verlorenes nie.

Tydens die Paasnaweek in April, het ons ‘n Mission4x4 span na Lesotho gelei om ‘n 62-jarige sendeling, Jayne Wilkens van Africa Inland Mission (AIM) te ondersteun. Die span het by August Basson van AIM aangesluit wat die Lesotho Streeksleier is.

Jayne beskryf die afdraaipad na die gemeenskap so: “There are three roads, take the one that’s not really a road….

Die Mission4x4 span het uit drie gesinne bestaan wat Nick & Wilma Olivier en Neels en Anita Rautenbach ingesluit het.  Saam het ons ‘n sonkragstelsel, ‘n watertenk, ‘n gasstoof en ordentlike antrasietstoof vir Jayne gaan installeer.  Sy werk al ses jaar in ‘n afgeleë gemeenskap naby Molumong.  Sy het tot daardie naweek nog, ‘n emmertjie gebruik om haar skottelgoed buite haar huis te was en het slegs 3 minute om te stort.  Haar kragstelsel wat sy gehad het, het ook nie gewerk nie en haar trane het vryelik gevloei toe August haar roep om ‘n lig aan te skakel!   

Die Mission4x4 span het voorts ook die huisraad van ‘n Amerikaanse sendeling wat in Maart oorlede is,  gaan oppak.  Chris Gennaro en sy gesin het in dieselfde gemeenskap o.a. vaardigheids-opleiding gedoen.   Nick & Wilma het in hul 4×4 karavaan gekamp en Neels en Anita het ook hul “off-road” waentjie tot daar gesleep.  Die span kon in die Gennaro’s se huis bly wat toegerus is met ‘n sonkragstelsel en water tenks.

Cube Opleiding

Terwyl daar gehammer, gekap en opgepak is, het Elzaan aan Jayne en ‘n tuisversorger, opleiding gegee in die gebruik van die EvangeCube en HIV/AIDS Cube wat deur die ondersteuningsgroepe in hierdie gemeenskappe gebruik gaan word.  Jayne gaan dan ander tuisversorgers oplei in die gebruik van hierdie hulpmiddele.

Elke gesin wat gegaan het ook broodnodige handskoene aan Jayne wat o.a. MIV toetse in die gemeenskap doen, verskaf. Sy het al vir ‘n geruime tyd nie meer handskoene gehad nie.

Sendelinge wat onder Skaapwagters werk.

Die span het Sondag na ‘n vroeë-oggend Paasdiens in die veld, ook gaan piekniek hou by twee ander sendelinge, Becka & Meryll wat onder die skaapwagters woon en werk. 

Die reis was ongeveer 46km lank, maar het  4,5 ure geneem om tot daar te kom omdat die pad ‘n groot 4×4 uitdaging was.  Die voertuie het uit 3 Land Rovers en ‘n Pajero bestaan.  Die Land Rovers moes op ‘n stadium die Pajero uit modderige turf uitsleep wat vir groot opwinding gesorg het!

Becka en Meryll, bly al twee jaar in die gemeenskap, en is besig om 35 stories van die Bybel in die mondelingse storie-vertel kultuur (oral story telling), te vertaal.  Hulle  het reeds 27 stories op hierdie manier aan die skaapwagters oorgedra op ‘n sonaangedrewe oudiospelertjie en behoort teen Junie klaar te wees met die projek.   

Die omstandighede waarbinne hierdie vroue alleen in die village bly, het ons almal diep aangeraak. Hulle het glad nie krag nie en kan dus nie kos koud hou nie.  Hulle was baie opgewonde toe hulle braaivleis van die vorige aand se ete sien.  Hulle het ook nie lopende water nie en hulle het verskoning gevra dat hulle nie vir ons kan water aanbied nie, want hulle het self te min.  Om voorrade aan te vul, loop hulle 2 ure na ‘n vliegveld vanwaar hulle na Maseru toe vlieg om inkopies te doen. 

Ons sal nog lank oor hulle praat en hoop om hulle op ‘n manier te kan ondersteun in die toekoms.

Aan Hom al die Eer

Al die sendelinge wat ons ontmoet het se geloof en toewyding is ‘n inspirasie om voluit die wedloop te hardloop ongeag omstandighede. Ons het so baie by hulle geleer.

Leave a Reply

HTML Snippets Powered By : XYZScripts.com