Lusikisiki se gelowiges

deur Hannes de Villiers

Ek het die geleenheid gehad tussen 4 en 6 Oktober 2013 ‘n klein gemeente buite Lusikisiki in die Oos-Kaap te besoek. Pastoor Shawn Duma wie werksaam is onder Crusade for Christ, ‘n Bybelskool, is verantwoordelik om die pastore in die Oos-Kaap en Suid-Natal op te lei en toe te rus in evangelisasie.  So ondersteun Building Hope Foundation vir Shawn om EvangeCube asook HIV/AIDS Cube opleiding daar te gaan doen.

Dit is altyd ‘n groot geleentheid om op hierdie manier te gaan help en ‘n mens kan nie anders as om terug te kom en net weer dankbaar te wees oor die omstandighede waarin ons leef nie. Lusikisiki is ‘n omgewing wat erg deurloop onder misdaad. ‘n Tyd gelede is daar ‘n man, net ‘n entjie van die kerkie af, op die ou manier “ge-neklace.” Daar is geen elektrisiteit of lopende water nie. Die regering het onlangs baie netjiese put-toilette opgerig, ‘n baie groot verbetering op die “ou toilette”.

Die vriendelikheid waarmee ons ontvang was, is werklik besonders. Een van die lidmate is ‘n weduwee wie in ‘n baie goeie huis bly, binne die konteks van die omgewing. Sy het ‘n gedeelte van die huis ontruim om ons te akkomodeer. Indien jy in die aande buitentoe wou gaan, moes haar seun jou vergesel omdat hulle 15 honde het wat die gebied patroleer.  Elke oggend om 07:00 klop haar seun aan die deur met ‘n emmer warm water. Dan is dit badtyd in die skottel wat in die hoek in die kamer staan.

Die gemeente het ‘n baie interessante geskiedenis. Van 1965 tot 2001 het die gemeente sonder ‘n herder bestaan, bedoelende n predikant of ‘n pastoor. In hierdie tyd het die gemeente so gegroei dat hulle ‘n redelike groot, weereens binne die konteks, kerkgebou opgerig het.  Oor tyd het die reën die modder tussen die stene uitgespoel tot op ‘n dag wat die struktuur inmekaar geval het. Dit het ook aanleiding gegee tot die opbreek van die gemeente. Vandag is daar nog net ‘n klein handjie vol lidmate oor.  Hier het ek geleer dat binne die kultuur van die mense baie belangrik is om ‘n fisiese plek van aanbidding te hê en dat dit verkieslik nie in die pastoor se sitkamer moet wees nie.

Opleiding en Toerusting

Dit het baie goed gegaan met die opleiding.  Omtrent 14 mense is toegerus om die evangelie te deel en die EvangeCube, as hulpmiddel, effektief te gebruik.  Ek het ook ‘n detail HIV sessie aangebied deur middel van die HIV/AIDS Cube. Dit bly altyd verstommend dat, ten spyte van geweldig baie geld wat deur die regering en ander nie-regeringsorganisasies, daarop gespandeer is, dat mense in hierdie tipe omgewings nog steeds baie min van die onderwerp weet.  Shawn het daarna AWANA opleiding gedoen wat sport gebruik om kinders met die evangelie te bedien.

Shawn het my gevra om Sondag die diens te lei en ek het gepreek oor ons rol as Ambassadeurs vir Christus.  Een vrou het my met verbasing aangekyk toe sy die konsep van ‘n ambassadeur vir Christus snap. Dit was so mooi toe ‘n ander vrou die vergelyk trek wanneer ‘n familie twee verteenwoordigers na ‘n ander familie stuur om ‘n dame van daardie familie te vra om met ‘n man te trou.

Na die diens, het ek en Shawn saam met die bejaarde manne aan die tafel gesit om te eet.  Die vrouens mag nie saam met ons aan die tafel sit nie. Hulle wag eenkant totdat die jong meisies hulle kom bedien.  Tydens hierdie ete het ek die voorreg gehad om ‘n stukkie van ‘n baie ryk kultuur en die humor daarvan te beleef.   Die Gogo’s het hardop begin lag, toe Shawn koeldrank vir sy vrou inskink en neem.  Daarna het nog mans dieselfde gedoen, maar almal het geweet dat dit nie binne die kulturele konteks glad nie ‘n algemene praktyk is nie.   Een man het egter geweier om die voorbeeld te volg en gesê dat sy vrou haar plek moet weet en dat hy haar nie sal bedien nie.

Die openheid, opgewondenheid, tevredenheid en gasvryheid van hierdie groepie gelowiges gaan my lank bybly.

 

Leave a Reply

HTML Snippets Powered By : XYZScripts.com